ONTKETTENING, WOORDFEES 2003
STELLENBOSCH
DATUM: 9 Maart 2003
TYD: 17h30 - 19h30
PLEK: ENDLERSAAL, U.S. MUSIEK KONSERVATORIUM
LEIERS: A. SAMODIEN / I. KANNEMEYER (SAKR)
R. DEVAJEE / I. PHILANDER ; M.I.S RAWOOT
AANBIEDER/ KOÖRDINEERDER : D.DESAI
PROGRAM
L1 Agtergrond
TROMME EN/OF ANDER INSTRUMENTE
(Samodien, Devajee, Philander, Hendricks)
L2 Opnames
L3 Sufiisme
SAMMAN DHIKR
(Samodien, Philander, Hendricks)
L4 Slawe milieu / ondertroues
GIT
(Rawoot)
SAKR SEKULÊRE MUSIEKVERTONING
Moppies, ghommaliedjies,
Nederlandsliedere,ens.
(Samodien)
L5 Sunna
ADHDHAN (in Afrikaans)
(Devajee)
QIRA’AT (in Afrikaans)
(Vroulike qari)
VOORWERK (Al Fatigah in Afrikaans)
Asma-ul Goesna
L6 MOULOED
DHIKR (in Afrikaans)
(Manlike en Vroulike jamaah)
L7 NA’AT
ARABIES-OERDOE-ENGELS-AFRIKAANS-XHOSA Na’at
L8 AFSLUITING
ASHRAKAL (Almal)
(Devajee)
L1 Agtergrond
Kaapse Maleier en Moslem musiek (afgekort KM & M musiek of net KM) is gevorm oor etlike dekades en eeue, deur gemeenskappe met bande met alle hoofkulture in die wereld.: Wes-Europa, Indië (insluitende Pakistan), Arabië, die Indonesiese Eilande, Maleisië, China, die Ooskus van Afrika, en natuurlik Suid-Afrika self. Musikaal-kulturele invloede vanuit hierdie gebiede het, op verskillende wyses, bygedra tot die totstandkoming van wat ons KM musiek kan noem.
Deels kan die wortels en herkoms van KM gevind word in die Indonesiese voor-Moslemse musikaal-kultuur verlede, hetsy Hindoeïsties, Boedisties of animisties. Hollandse, Engelse asook voor-Islamitiese Arabiese musiek-kulturele invloede is konsekwent geidentifiseer. Voorts behoort die belangrikheid van Portugees-Moorse invloede soos wat dit voorkom in die sinkretiese “kroncong” musikale kategorie dringend aandag te geniet met verwysing na ons KM musiek.
Vanaand poog ons om u op ‘n musikale reis te vergesel, wat oor etlike eeue heen strek. Ons skop af met ‘n komposisie wat die drie tradisionele tromme insluit: dhol of ghomma, rebanna en tamarien. Hierdie tromme word nooit in hierdie kombinasie in KM gebruik nie. Hulle word onderskeidelik bespeel in moppies, ghommaliedjies en nederlandsliedere waarin die vaatvormige ghomma voorkom, in die ratiep volksvertoning (wanneer die dhol kombinasie met die rebanna gebruik word) en die nagtroepe en/of klopse karnival. Ons poog slegs ‘n idée te gee van die ri’pai vertonings wat in Noord-Sumatra plaasvind, asook ander musiekvorme wat met KM geassosieer kan word, soos byvoorbeeld die ma’yong en die dabuih. Die eeu-oue rebab en sarune kom algemeen voor in sekere Indonesiese genres; die viool is in ons komposisie geïntegreer as plaasvervanger vir die tradisionele rebab.
Die groep regs stel ‘n informele en tipiese Kaapse sosiale groepering voor; verregs is die gom-gom en ra’king te sien wat aanduidend is van die kutuurverwisselinge wat voorgekom het tussen Kaapse Maleier en Khoi-slawe musikante van weleer, soos beskryf deur vele vroee navorsers en reisigers.
Die bekende Australiese musikoloog Margaret Kartomi en haar protégés David Goldsworthy, Catherine Falk en vele ander, het oor etlike jare heen ‘n magdom van musikale opnames gemaak wat die Indonesiese musiekkultuur betref, en wat nou verband hou met the die kultuuromgewing van sommige van die voorouers van hedendaagse KM beoefenaars. Die eerste is ‘n heuningversamelingslied wat deur Goldsworthy opgeneem is in 1973. terwyl die tweede deur Kartomi self in Minangkabau in Wes-Sumatra opgeneem is. Beide ek en Kartomi het referate daaroor gelewer, my eie egter in 1996 in reaksie op haar werk in 1993 oor die dabuih wat verwant is aan ons KM ratiepvertoning. Die (Islamities) stylistiese elemente van die vokale deel is genoegsaam rede vir die insluiting daarvan in ons vertoning. Dis juis hierdie aspek wat musikoloe vermy met byna aanvaarbare bevooroordeling. Interessant is egter Kartomi se onlangse vrystelling van klankopnames van Moslem musiek in Morokko. Syrie, Arabie, Maleisie asook Indonesie. Achmat Davids se ongepubliseerde werk van 1997 meld die moontlike onstaan van ons ratiep koppel aan die politieke banneling Sheikh Yusuf wat in 1694 op Macassar oorlede is; daarbenewens is daar nou ook die sterk moontlikheid dat ene Griep wat in 1813 noodlotting gedurende ‘n ratiepvertoning gesterf het, ‘n slaaf was van Tuan Guru, ‘n prins van Ternate-eilande wat op Robbeneiland aangehou was sedert 1780.
L3 Samman
Soos wat die Rifa’iyyah Sufi orde verbind word met die ratiep, so hou vele godsdienstige gebruike verband met sekere Soefie ordes. Onder die menigte Sufi ordes tel die Qadiriyyah, Sammaniyyah en die Rifa’iyyah wat al omtrent 900 jaar bestaan.
Die verhoogvertoning is kenmerkend van die Kaapse samman en kaderia vertonings wat kaseda dhikr soos “Salaam”(Vrede) insluit. Die vokale tegniek wat verband hou met vokaal-ge-aspereerde klanke, die gevolglike ritmiese patrone asook die beweging is unieke kenmerke van hierdie merkwaardige vertoning. Die hoofdoel bly egter “herinnering” aan Allah en ‘n intense mentale en geestelike fokus op ‘n algehele eenheid met die Skepper deur middle van die beoefening van DHIKR of godsdienstige frase-herhaling.
Die volgende unieke sammanvertoning word nou vir die eerste keer in die openbaar gehou. Alhoewel samman, soos die ratiep, vir etlike ure snags aanhou, met gepaardgaande verstommende aksies wat godsdienstig diepliggend is, gaan ons vertoning vanaand slegs ‘n paar minute duur, en vind heeltemal plaas sonder die normale voorbereiding en oploop, doel en trans. In kort dit is ‘n vertoning tot julle voordeel.
L4
Vele van die vroegste slawe het met Hollandse skepe vanaf die Oosterse werelddele soos Bantam en die Malabar kus van Indie gekom. Vrygestelde slawe (Mardijkers), belangrike politieke en godsdienstige soos Sheik Yusuf (in 1694) en Tuan Guru (in 1780) het die kern van die vroee Kaapse Moslem gemeenskap gevorm. Volgens die geskiedskrywer Boeseken is die eerste "Oosterse" vrou Catherine van Bengalen en Jan Wouterz in 1657 deur Jan van Riebeeck in die huwelik bevestig. Alhoewel git (lied) vertonings 'n belangrike kategorie van Indiër-Moslem musiek uitmaak, mag die insluit daarvan in ons vertoning oenskynlik uit verband voorkom.
Twee kontrastrerende Indiër-Moslem bruids-"git" of -liedere, albei getitel "mehendi" en wat na die natuurlike kleursel henna verwys, word hier gelewer:
Slawe is as musikante deur welgestelde Hollandse persoonlikhede (soos ene van Breda) en plaaseienaars ingespan. Die uitsonderlikheid van KM musikante is deur onder andere Duff Gordon besing. Kirby verwys ook na die verband van die klapperdop van die gom-gom van die Khoi met vroeë slawe. Hierdie vroeë musikante het hulle unieke style van moppies, ghommaliedjies en nederlandsliedere ontwikkel. Verskillende danse het telkens hierdie liedere vergesel.
In 1770 is resitering van die Koran alreeds beskryf. Prototipes van KM sekulere musiek het ook lank voor die vrystelling van slawe in1834, wat ook nie eensklaps plaasgevind het nie, ontstaan.
Vandag is die Nuwejaarsvieringe amper (en dus verkeerdelik) sinoniem met Kaapstad en sy musiek. Die Kaap sonder sy opera, kerkmusiek, township musiek en jazz is ondenkbaar! 'n Mens kan miskien jou ook voorstel hoe 'n groepie 'n gewyse lied in die agtergrond sing, wat nuttig kan wees in sosio-godsdienstige-kuturele konstekstualisering van Distrik Ses.
DEEL II
Kaapstad is wereldbekend vir baie redes: Van onbetwisbare belang is die geweldige kutuurbydraes van die Ou Kaapse Maleiers (of Moslems), en in besonder hulle musiekskat en uitstaande musikantskap so raak in 1770 deur die vroee Hollandse reisiger Lichtenstein, en vele ander soos Duff Gordon en Lawrence Green, beskryf. Ook bekend is die Kaapse blommeverkopers wat op die Kaapstadse Parade en elders te vinde is. Die blommemeisiedans het 'n eervolle plek onder die talryke Maleierdanse, wat die lingu, kransdans, kussingdans, ghommadans sowel as die indrukwekkende ratiep dans (wat u in die opening gesien het) insluit.
Die groepering op die verhoog stel voor 'n tipiese Dsitrik Ses straathoektoneel gedurende die 1950's. Dit was die era van Rock & Roll en natuurlik Elvis. Net soos "Die Alibama" verband hou met Sir Bishop se "Home, Sweet Home", gaan Elvis se "For I can't help falling in love" sorg vir "kos" tot opvoedkundige en filosofiese "denke". Tuisgemaakte instrumente en aanpassings van Presley se lied in moppie en nederlandsliedstyl vorm die grondslag vir hierdie OBE en ABET "opviedkundige" les. Van belang is die gebuik van die gom-gom en ra'king wat vir etlike jare, seker ten minste twee eeue, nog nie gehoor speel is nie.
L5
KM het sy impetus (voorstuwing) nie net vanaf Hollands-Afrikaanse invloede gekry nie, maar ook vanaf godsdienste gebruike, soos die adhdhaan of the gebedsroep, wat 5 keer daagliks vanaf die minaret van 'n moskee gelewer word.
QIRA'AT
Qira'at, of voordrag uit die Koran, vorm die kern van madressa (Moslemskool) sillabusse. 'n Belangrike vakgebied wat daarmee verband hou, is tajwid, oftewel die reëls van uitspraak.
Die Al-Fatigah is die meesbekende asook geresiteerde Surah (hoofstuk) - die eerste - van die Koran.
ASMA-UL HUSNA
Die 99 name van Allah vorm die basis van die weeklikse haddad (godsdienstige byeenkoms).
MOULOED
Mouloed verwys na die viering van die geboortedag van die Profeet Muhammad en vind plaas op die 12de dag van die Moslemmaand Rabi-Auwal (vanjaar in Mei). Dit word deur Moslems dwarsoor die wereld gevier, alhoewel in verskeie style en vorme. Voorheen het KM mouloed op luisterryke wyse op die kumies of eerste en daaropvolgende mouloeds, met 'n voorafgaande Indonesies verbinde rampie-sny seremonie, op Sondae gevier.
Talle mans en vroue jamaahs bestaan wat hulle gesangagtige djiekers, of die KM vorm van DHIKR, lewer. Die vroue jamaah op die verhoog is in twee "kompeterende" groepe, wat die toekang en djawap sal lewer. Hierdie tradisie is in ooreenstemming met die manlike vertonings binne moskee of 'n ander geskikte plek. Vroue het hul eie besondere manier van mouloed feesvieringe.
XHOSA NA'AT
Na'at het met moulood die besonder doel in gemeen van die besinging van die lewe on leerringe van die profeet Muhammad, ofskoon laasgenoemde die geboorte van die Profeet herdenk, soos wat kersfees dit van Christus doen. Vir erlike jare al, het Islam die buitehoeke van die aarde bereik, en die na'at wat in vyf tale gelewer word is vertalings van 'n 1400 jaar-oue gedig. Die na'at is dus tekenend van die kultuur verwisseling wat gedurigdeur in Islam voorkom.
ASHRAKAL
Hierdie voordrag word gewoonlik aan die einde van vele KM godsdienstige geleenthede gelewer, soos byvoorbeeld by die mouloed.
© DESMOND DESAI, DMD EDU-HOME, 2007
All rights reserved. Designed and created by Desmond Desai, South Africa. This page is protected by Copyright. No part of this page may be reproduced, stored in a retrieval system, or transmitted in any form of by any means, electronic, mechanical, photocopying, recording or otherwise, without the prior written permission of the copyright holder.